Numbi skop hul atletiekseisoen met groot sports af

O/7-atlete Merveille Numbi en Cherie van Staden hardloop vir 'n vale.

Die Elande in geel en Koedoes in blou het aan hoogspring, verspring, gewigstoot, naellope en ander baanitems deelgeneem of vanaf die pawiljoen hulle maats luid met krete en atletiekliedjies aangemoedig.

Die doel van die byeenkoms was om die beste atletiektalent in die skool op te spoor en ‘n sterk span saam te stel vir die jaar se atletiekbyeenkomste. Al die leerders is aangemoedig om deel te neem en hulle sportvaardighede en belangstelling te slyp.

Dit het vir sommige maar swaar gegaan in die warm, bedompige weer en ‘n hele paar is met bloedrooi velle huis toe. Madeleine en Marius van Staden van PRU was egter op hulle pos langs die veld om seker te maak dat enige beserings spoedig behandel is.

Van Numbi se beste atlete het uitstekende uitslae gelewer nadat hulle deur die loop van die week slegs een oefenlopie gehad het. Blessings Nziyane het die gewigstootrekord vir seuns o/13 met 0,34meter gebreek met ‘n nuwe rekord van 9,74meter. Zoe Vos het ook ‘n gewigstootrekord met 8,39meter teenoor haar ou rekord van 8,24meter verbeter.

Aan die einde van die dag het die Koedoes koning gekraai met 568 punte teenoor die Elande se 479 punte.

Die eerste kwartaal se kalender is propvol met ‘n byeenkoms op Mariepskop op 30 Januarie, die eerste kringbyeenkoms by Laerskool Numbi op 5 Februarie en die interlaer by Malalane op 11 Februarie.

  AUTHOR
Marlet Ireland

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
VIDEO: Hartseer boer wys hoe droogte vee op hope laat vrek