Feeste en klinieke help Numbi-hokkiespelers se vaardighede verbeter

Zoë Vos van die o/12 meisies-hokkiespan tydens die wedstryd teen Laerskool Bergland.

Die o/10-seuns het op 25 Julie aan Curro Nelspruit College se eerste o/10-hokkiefees deelgeneem. Dit is ook die eerste jaar dat die skool se o/10-span aan minihokkie deelneem.

Dié fees het ‘n nuwe formaat gevolg om spelers meer spasie en tyd met die bal te gee om sodoende hul vaardighede te verskerp. Die span het twee van hul vier wedstryde gewen, wat uitstekend was, aangesien heelwat van die spelers nuut was.

Dit was ook ‘n groot uitdaging vir die leerlinge om op die Astro-bane te speel, want die oppervlak veroorsaak dat die bal aansienlik vinniger is. Nokka Ferreira, afrigter van die o/11’s was só beïndruk met die o/10’s se spel, dat sy ‘n paar van die uitblinkers gekies het om vir haar span te speel.

Die o/13-dogters was onlangs weer by ‘n hokkiekliniek in Witrivier, waar spelers en afrigters vir die seisoen voorberei het. Spelers het nuwe vaardighede, tegnieke en taktieke soos aanval, verdediging en doeltelling aangeleer en die klem het op spesiale vaardighede geval.

Hulle is gelei en die geleentheid gegee om die nuwe vaardighede en mededingende wedstrydsituasies te oefen. Die fokus was op spandinamika en posisionele spel asook blootstelling aan nuwe taktiek.

Laerskool Numbi se o/12-dogters het op hul beurt Laerskool Bergland in ‘n wedstryd aangedurf. Alhoewel hulle met ‘n telling van 6-0 verloor het, was hul vaardighede en tegnieke uitmuntend.

  AUTHOR
Marlet Ireland

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Hazyview police rise to the top