Transitorowers kom weg met duisende

Die transitoroof het Hazyview geruk.

Volgens mnr. Joos van der Merwe van Spes-Plan Sekuriteit, het ‘n Fidelity transito-voertuig by die Engen Bluehaze-vulstasie gestop. Mnr. Shaun Terblanche van J&M Sekuriteit het vertel dat die bestuurder van die transitovoertuig saam met ‘n voertuigwag en offisier van Fidelity voor in die voertuig gesit het. Saam sou dié drie mans sorg dat kontant vanaf Engen Blue Haze gehaal word.

Terblanche het vertel dat die toneel nie met Fidelity se aankoms verdag gelyk het nie. “Daar is drie mans gesien wat hulle as klante voorgedoen het.” Hulle was gewapen en het toegeslaan toe die kontant na die transitovoertuig gedra is. Volgens Van der Merwe was dit sowat R40 000.

“Terwyl die rowers, gewapen met rewolwers, vanuit die winkel op die transitovoertuig afgepyl het, het nog twee, gewapen met AK4s, verskyn.” Volgens Terblanche was daar 10 rowers wat op die voertuig toegesak het terwyl die kontant ingelaai moes word.

Een Fidelity-wag het sy vuurwapen laat val. Sy kollega het een van die rowers met die agterkant van sy vuurwapen geslaan. Dié rower se makker het ‘n geweerloop teen sy kop gedruk en gewaarsku: “Cut out the funny business, or I’ll shoot you.”

Die rowers het hom oorrompel en met ‘n magdom kontant op die vlug geslaan. Hulle het in ‘n Mitsubishi Colt in die rigting van Mahushu gevlug.

“Die derde lid van die transitobemanning het nog in die voertuig gesit. Hy het die verdagtes agternagesit. Daar het intussen meer voertuie by die Mitsubishi aangesluit en die verdagtes het skote in die transitovoertuig se rigting afgevuur.

“Een van die verdagte motors het selfs van die pad afgetrek sodat die insittendes op die Fidelity-voertuig kon skiet en ons derde bemanningslid sodoende in sy spore gestuit,” het Terblanche gesê.

Kapt. Pieter Smit, bevel-voerder van die blitspatrollie, was ook op die toneel.

Geen ernstige beserings is aangemeld nie en die polisie kon op een van die verdagtes se voertuie en ‘n AK47 beslag lê.

  AUTHOR
Helene Eloff

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Officer from Acornhoek caught with drugs