Rudi Kunz verloor sy stryd

Rudi Kunz

Sewe maande na ‘n frats-ongeluk wat tydens sy 30ste verjaarsdagviering plaasgevind het, het Rudi Kunz verlede week aan sy beserings beswyk.

Lees ook: Jongman se familie hoopvol vir sy herstel 

Hy is Dinsdag by Kampersrus-begraafplaas in Hoedspruit te ruste gelê. “Wat ‘n voorreg en vreugde was dit om te kon deel in die eerste 30 jaar van Rudi se lewenspad. Ons was getref deur sy lewenslus en blymoedigheid, sy avontuurlustigheid, hulpvaardigheid en betroubaar-heid – hy kon skerts en terg, en hy kon waag, maar met verantwoor-delikheid. “Nou moes ons fisies afskeid neem, maar in die gees sal ons nooit skei nie,” het die familiebrief gelui. Hulle het verder bygevoeg dat Rudi nou ‘n pynlose rus gegun word, hoewel hy baie gemis gaan word.
Hulle verwys na die afgelope sewe maande as die tweede deel van sy lewe, vol onbesryflike lyding en beproewing. “Die totale aftakelingsproses het onkeerbaar voortgegaan tot die einde, erger as die ergtste erg. Ons treur oor die skeiding, maar is dankbaar oor die einde van sy lyding.”
“Rudi het die afgelope tyd baie swaargekry – sy longe wou nie meer korrek funksioneer nie,” het ‘n familievriend aan Hazyview Herald gesê. Sy het bevestig dat hy verlede Dinsdag om 22:00 dood is.
Die koerant het vroeër berig dat Rudi en sy vriende op 1 April by Klaseriedam bymekaargekom het om sy verjaarsdag te vier.
Toe hy laatmiddag in die dam duik om by sy vriende aan te sluit, moes hulle kort daarna toekyk hoe sy beweginglose lyf uit die water getrek word. Die water was vlakker as wat hy gedink het en dié misrekening het veroorsaak dat hy ernstige beserings aan sy nek- en rugwerwels opdoen, wat hom heeltemal verlam het.
Hy is inderhaas na Mediclinic Nelspruit geneem, waarna hy na Netcare Garden City in Johannesburg oorgeplaas is. Hy is later na Mediclinic Muelmed verplaas, en ongeveer twee maande gelede, in ‘n rehabilitasie- en versorgingsentrum in Pretoria opgeneem.
Rudi het sy skoolloopbaan by Laerskool Numbi begin, gevolg deur Hoërskool Nelspruit waar hy gematrikuleer het. Sy ouers, Johan en Annemarie woon steeds in Hazyview.

Lees ook: Gholfspelers dra by tot jongman se behandeling

  AUTHOR
Stefan de Villiers

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Learners gain insight into conservation