‘Big Joe’ se verhoor vind dalk binnekort plaas

Big Joe Nyalungu.

Big Joe Nyalungu, na bewering ‘n sleutelrolspeler in ‘n stropingsindikaat, sal na verwagting Dinsdag weer in die hof verskyn. Hy het oor die jare reeds in distriks- en streekshowe in onder andere Mbombela, Middelburg, Mashishing, Bosbokrand en Skukuza verskyn. Die saak teen hom is al meer as 10 keer uitgestel voor dit nog begin het.

Die Nasionale Vervolgingsgesag en Nyalungu se regspan kon nog nie ooreenstem oor die hof waarin die verhoor moet plaasvind nie. Hy het tydens sy vorige verskying versoek dat sy saak na ‘n Hoë Hof oorgeplaas moet word.

Landdros dr. Andries Lamprecht het die saak na Dinsdag uitgestel, wanneer uitsluitsel hieroor gegee sal word.

Hazyview Herald het vantevore oor Nyalungu se arrestasie berig. Hy is op 12 Desember 2011 aangekeer terwyl hy van Gauteng na Middelburg op pad was en die polisie hom afgetrek het. Daar was na bewering R3 280 800 kontant sowel as die DNS van ‘n renoster in sy besit.

Toetse het bevestig dat die DNS dié van ‘n renoster was wat vroeër daardie jaar in die Nasionale Krugerwildtuin se Stolsnek-omgewing gestroop is.

Nyalungu is op borg vrygelaat. Op 27 Februarie 2012 het ‘n polisieman wat hom glo as ‘n renosterhoringhandelaar voorgedoen het, na bewering twee horings ter waarde van R346 000 aan Nyalungu verkoop. Op 2 Maart 2012 het nog ‘n kammahandelaar glo vier horings vir R370 000 aan Nyalungu verkoop. Hy is weer gearresteer en op borg vrygelaat. Sedert sy arrestasie is daar op kontant en bates ter waarde van miljoene rand beslag gelê – R8,1 miljoen daarvan is in 2013 aan SANParke se ondersoekeenheid vir omgewingsmisdade oorbetaal.

Sy borg is sedertdien teruggetrek, maar weer toegestaan en verleng tot en met sy volgende hofverskyning.

  AUTHOR
Stefan de Villiers

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Flat Earthers’ proof that the Earth is flat